Balans bring beter resultate

Almal is besig vandag.  Elkeen het meer as een rol om te vervul.  Mense beleef al hoe meer druk tussen werk, gesin en persoonlike ontwikkelling.  Wat dit moeilik maak is dat die grense tussen hierdie drie lewensareas onduidelik is, omrede die een die ander twee ook beïnvloed.  Dink net ‘n oomblik aan die invloed wat jou gesin op jou werksdag het?  Dit is ‘n leuen om te dink dat my huis is by die huis en my werk is by die werk.  Is dit nie so dat jy beter werk wanneer jy weet jou gesin jou daarin ondersteun nie?

Dikwels is dit die werk wat grense oorsteek.  Wanneer jou tyd by die werk te veel word wil mense somtyds die probleem oplos deur werk huis toe te neem.  Op hierdie manier is jy nooit regtig by die huis nie.  Dit is nog moeiliker wanneer jy van die huis af werk.  Wanneer werk jy en wanneer is jy by die huis?  Die gevolg is dat mense in een gesin by mekaar verby leef.  Dit is ironies, want hierdie gesin is die rede vir jou werk sowel as die ondersteunende struktuur om jou werk te kan verrig.

Die rol wat gewoonlik afgeskeep word, is die een van selfvervulling.  Tussen die werksdruk en die gesinsverantwoordelikhede voel mense te skuldig om aan hul selfontwikkelling tyd, energie en geld te spandeer.  Dit is nogals ironies want wanneer hulle dit doen sal hul vermoë om hul lewe in balans te kry verbeter. 

  • Wat weet ons?  Mense met ‘n balans in hulle lewe lewer oor die langtermyn beter resultate.  Die rede is dat daardie been wat te kort skiet word die beperking op jou prestasie. 
  • Mense se lewens raak uit balans uit omrede hulle fokus verloor op wat regtig vir hulle belangrik is.  Fokus bring balans terug. 
  • As jy dinge anders wil hê moet jy dit anders begin doen.  
  • Beplan, beplan en beplan.  Daar is niks wat jou dagboek vol onnodighede kan maak soos wag en kyk wat gebeur nie.  As jy nie jou dagboek volmaak met die dinge wat vir jou waarde het nie, sal die lewe dit vir jou volmaak met onnodige dinge.  Beplan jou dag.  Beplan jou week.  Beplan jou maand.
  • Spandeer tyd en energie aan jou selfontwikkeling.  Dit stel jou in staat om alles in jou lewe beter te hanteer.
This site uses cookies to offer you a better browsing experience. By browsing this website, you agree to our use of cookies.