Behou jou deernis

Hier is ‘n lekker oefening wat elkeen vandag kan gaan doen. Doen vandag iets wat vir jou uitsonderlik lekker is. Dit mag maar iets selfsugtig wees. Dit moet net iets wees wat jy self geniet. Pret. Wanneer jy dit klaar gedoen het, gaan skryf jou ervarings neer. Wat jy gedoen het? Wat jy gedink het? En Wat jy gevoel het?

Op dieselfde dag gaan doen iets vir iemand anders uit deernis. Jy mag geen ander bedoelings daarmee hê, behalwe om iets goeds vir iemand te doen nie. Gaan skryf nou weereens jou ervarings neer. Watter ervaring dink jy getuig mense gee vir hulle die meeste lewenskwaliteit?Om deernis aan iemand anders te bewys.

Mense wat deernis kan bewys, is gelukkiger as hulle wat nie kan nie. Dit wys op die tekort in ons samelewing vandag wat so baie fokus op pret. Die gedagte is dat geluk en pret dieselfde is, maar duisende mense vind uit dit is nie so nie. Ek kan nou pret hê, maar dit maar ‘n kortstondige gevoel en ‘n swak plaasvervanger vir ware geluk. Jy mag pret hê, maar wanneer jou lewe daaruit bestaan om een pret ding met die volgende pret ding op te volg, sal jy uiteindelik werklike geluk mis, hoofsaaklik omrede jou lewe dan slegs om jouself draai.

Dit is vandag nie maklik om deernis te behou nie. Daar is so baie slegte ervarings, waar mense ons teleurstel dat mense dikwels emosioneel afgestomp raak. Hierdie emosionele afstomping beskerm hulle teen verdere seerkry, maar die probleem kom in dat dit ook mense weerhou om werklik gelukkig te wees. As jy vandag ‘n gelukkiger mens wil wees – behou jou deernis vir ander mense.

This site uses cookies to offer you a better browsing experience. By browsing this website, you agree to our use of cookies.