Het jy al gewonder oor die effek wat jy op ander mense het? Jy het mos al die gevoel gekry dat iemand “af” praat na jou toe? So ‘n persoon laat jou voel asof jy nie goed genoeg is nie. Dit is nie altyd asof hul intensies negatief is nie, hul probeer opreg om jou te help, maar die manier waarop hulle dit doen laat jou voel dat jy self nie in staat is om jou eie lewe te lei nie.
Dan is daar weer ander mense. Dit is sommer lekker om met hulle te gesels en jy het selfs die vrymoedigheid om met hulle te praat oor die dinge waarmee jy sukkel. Jy gee nie om nie, want elke keer as hulle van jou wegloop voel jy sekerder van jouself en bemagtig om jou uitdagings aan te durf.
Die vraag vanoggend is: Watter mens is jy? Een wat ander laat twyfel in hulself of een wat ander bemagtig?
‘n Gesprek wat mense in hulself laat twyfel bestaan dikwels uit die volgende elemente. ‘n Beoordeling van wat is reg en verkeerd op persoonlike vlak eerder as gedrag vlak. Jy doen nie iets verkeerd nie, jy is verkeerd. Jy doen nie swak nie, jy is swak. Verder sal hul vanuit hul eie raamwerk ‘n oplossing bied vir jou probleem. Jy moet nou jou situasie op hulle manier die hoof bied. Die gevolg is dikwels dat jy voel jy is nie goed genoeg nie.
Daarteenoor het ‘n bemagtigende gesprek die volgende elemente:
1. Duidelikheid. In die gesprek word die situasie of uitdaging duidelik omlyn deur ‘n gesindheid wat sê: “Help my om te verstaan?”
2. Kyk na die feite van die saak aanvanklik sonder interpretasie. Los die interpretasie vir die persoon wat worstel. Hier kan jy slegs die persoon help om ‘n realistiese interpretasie te vorm van wat besig is om te gebeur.
3. Besluit saam op wat julle eerder wil hê en hoe om daar uit te kom. In hierdie proses is dit belangrik dat jy nie voor die persoon staan om die persoon te trek nie, ook nie agter om die persoon te dryf nie, maar langsaan terwyl jy besig is om elke klein treetjie in die regte rigting te versterk.
Om so bemagtigend met mense om te gaan vat op die kort termyn meer tyd en meer energie, maar in die langtermyn is dit goeie verhoudings wat jou verder bring. Bemagtig die mense rondom jou eerder as wat jy hulle verkleineer deur beter te weet.

