Een van die maniere waarop mense die kwaliteit van verhoudings kan meet is deur middel van oogkontak. Aan die begin van ’n romantiese verhouding maak paartjies soveel soos 300 keer per dag oogkontak. Wanneer paartjies egter in die moeilikheid beland dan maak hul so min soos 4 keer per dag oogkontak. Die oogkontak wat hulle dan maak is dan ook nie van naby wees nie, maar dikwels ’n manier om te domineer.
Oogkontak is egter nie slegs ’n aanduiding van romantiese verhoudings nie. Dit is ook ’n aanduiding van die kwaliteit van vriendskap sowel as besigheidsverhoudings. Die rede waarom oogkontak so ’n impak op mense maak is omrede dit aandag oordra. Jou aandag is waar jou oë is.
Een van die grootste mites is om vir iemand te sê ek luister na jou, terwyl jy nie regtig oogkontak maak nie. ’n Mens luister met jou oë. In die wêreld waar mense dink hul moet met meer as een ding op ’n tyd besig wees, is verhoudings die slagoffer. Dit hoef nie so te wees nie. Jy kan vandag beter rapport met die mense rondom jou vestig deur gewoon oogkontak te maak. Of jy die persoon is wat die diens lewer en of jy die kliënt is, oogkontak sal jou besigheidservaring verbeter.
Een van die redes waarom mense nie graag oogkontak maak nie, is omrede hulle dit as blootstellend beleef. Dit is egter ’n subjektiewe belewenis wat slegs in jou gedagtes is. Oogkontak vertel ’n verhaal van selfvertroue, sekerheid en belangstelling in die persoon wat teenoor jou is. Toets dit vandag. Maak meer oogkontak en werk so aan die kwaliteit van jou verhoudinge.

