Bediening van Barmhartigheid

Lukas 10:33 “Maar ‘n Samaritaan wat op reis was, het op hom afgekom, en toe hy hom sien, het hy hom innig jammer gekry.”

Jou lewensingesteldheid dryf jou optredes. Wanneer die Here Jesus Christus die gelykenis van die Barmhartige Samaritaan vertel dan openbaar hy nie net die ingesteldheid waarmee Hy met mense omgaan nie, maar ook die ingesteldheid wat hy verwag sy volgelinge in die wêreld moet openbaar.

Innig jammer kry is ‘n spesiale gedagte in Lukas. Hy gebruik dit om te vertel wat God die Vader se ingsteldheid teenoor sondaar mense is. (In die verhaal van die Verlore Seun) Hier beskryf Lukas hoe Jesus die hart van God die Vader deel. Die Samaritaan verteenwoordig niemand anders nie as Jesus self, die veragte, wat die werk van God op aarde doen. En hy doen dit gedryf deur dieselfde lewensingesteldheid as die Vader. Die kenmerk van koninkrykswerk is nie net wat gedoen word nie, maar ook of dit vanuit dieselfde ingesteldheid as die Vader se ingesteldhed gedoen word?

Is dit nie waar dat die barmhartigheidsnood in die wêreld tans so groot is, nie omrede die hande nie beskikbaar is nie, maar eerder omrede dieselfde ingesteldheid nie altyd in gelowiges teenwoordig is nie. Dit is asof gelowiges eelte op hul harte gekry het, sodat hul nie meer die nood van mense in die wêreld kan aanvoel nie.

Innig jammer kry beteken juis om van binne in beweging gebring te word. Die Samaritaan het meer redes as beide die Priester en die Leviet gehad om by die slagoffer verby te loop. Hy het nie. Hoekom nie? Want hy word gedryf deur sy eie “innig jammer kry”. Dit is meer as al die redes wat hy het om verby te stap.

Wat vir my fantasties is, is die feit dat die Samaritaan die hart van God vir mense deel en dat sy optrede deur die goddelike lewensingesteldheid gedryf word, beteken dat hy beter uitdrukking gee aan diens aan God as die godsdiens van die Priester en die Leviet.

Het jy ook ‘n bediening met ‘n sagte hart? Word jy ook in beweging gebring deur die nood wat sonde en worsteling in die lewens van mense veroorsaak? ‘n Vraag wat jy moet beantwoord elke keer wanneer jy by nood in die wêreld verby gaan is: Wat is jou lewensingesteldheid wat jou laat wegkyk, laat blind word, laat hard word vir die nood voor jou? Hoe sal jy anders praat en anders doen wanneer jy op dieselfde pad stap, maar met dieselfde hart as Jesus? Dit is ‘n bediening van barmhartigheid!

Uit: Grondwaarhede vir die christelike lewe

This site uses cookies to offer you a better browsing experience. By browsing this website, you agree to our use of cookies.