Mense aanvaar sommer dat emosies is emosies is emosies. Mense sal nog aanvaar dat party emosies is positief en ander is negatief, want hul beleef dit so. Wat min mense besef, is dat positiewe emosies en negatiewe emosies elkeen ‘n afsonderlike neurologiese proses is. Dit beteken dat jy twee maniere van funksionering het. Jy kan vandag die positiewe emosionele proses volg of jy kan vandag probeer deurleef met die negatiewe emosionele proses.
Die positiewe proses word nie net positief genoem omrede dit positiewe emosies soos opgewondenheid en selfvertroue tot gevolg het nie. Dit bring ook deurgaans beter resultate in mense se lewens.
Die vraag is natuurlik hoe? Wanneer jy verstaan hoe die positiewe emosionele proses werk, sal dit vir jou makliker wees om om daarmee te leef.
Die beginpunt van hierdie proses is jou wil. Wanneer jy iets wil doen, doen jy dit beter en voel jy beter daaroor. Dit klink eenvoudig tot jy by ‘n moeilike dag kom. In ‘n moeilike dag moet jy… Die verskil tussen wil en moet lê daarin dat wanneer jy iets wil doen jy ‘n beter neurologiese sisteem gebruik as wanneer jy iets moet doen. Om ‘n beter dag te hê, moet jy dus besluit om die dinge wat jy altyd moes doen, te wil doen.
Die volgende bestanddeel vir jou positiewe neurologiese baan is om uitkoms gerig te werk. Jy moet ‘n waardesisteem hê om te bepaal of dit waarmee jy besig is die moeite werd is. Wanneer jy vooraf besluit wat jy wil bereik en waarom dit belangrik is, stel jy baie positiewe energie vry om dit deur te voer.
Die laaste kenmerk van jou positiewe emosionele proses is ‘n geneigdheid tot aksie. Wanneer jy opgewonde is om iets te bereik, kan jy nie wag om dit te begin doen nie. Jy wil. Jy weet jy kan en die feit dat dit betekenisvol is, maak dat jy dit sal klaarmaak. Hierdie geneigdheid tot aksie is so anders as daardie dinge wat jy aahou uitstel. Hoe meer jy uitstel hoe minder energie het jy daarvoor. In die postiewe emosionele proses skep jy voortdurend positiewe energie deur nader aan jou uitkoms te beweeg.
Wanneer jy ‘n great dag wil hê, kies om die dag te deurleef met jou positiewe neurologiese baan. Wil wat jy moet doen en doen wat waarde het. Dit voel great.

