Romeine 11:6
Genade as die fondament help ons om die res van die evangelie te verstaan. Verbeel jou jy stap in die nagdonker met ‘n flits. Elke keer wat jy Bybel lees skyn dit op ‘n aspek van die evangelie. Vergifnis. Vreugde. Geloof. Liefde. Wanneer jy Bybel lees skyn jy lig op die geloofswaarheid en verstaan jy dit beter. Wanneer die lig egter op genade skyn gebeur daar iets merkwaardigs. Genade werk soos ‘n reflektor wat nie net self skyn nie, maar ook die ander geloofswaarhede belig. Dit reflekteer daardie verstaan op so ‘n manier dat jy met nuwe oë na die ander geloofswaarhede kyk! Nou verstaan jy wat die christelike liefde anders maak. Dit is uit genade. Nou verstaan jy wat vergifnis moontlik maak. Dit is uit genade. Nou verstaan jy waar sondaar mense weer in die lewe herstel word. Dit is uit genade. Dit is hoekom genade tot die fondament behoort: dit verlig die res van die evangelie en help jou om die volle evangelie beter te verstaan.
Die nabootsers van die evangelie val telkens by genade.
Dink aan enige heidense geloofsoortuiging wat gebasseer is op ‘n goeie lewe. Karma. Die Bhoedistiese lewensstyl of selfs ateïste wat oortuig is dat mense uit hulself ‘n goeie lewe sal leef.
Dink aan die Fariseërs met hul meer as 600 wette wat op hierdie manier ‘n verhouding met God wou bou.
Dink aan mense wat die evangelie gebruik as ‘n stok om ander mee te slaan.
Die vreemde aspek van genade is dat mense geneig is om na hulself te kyk deur genade, maar wanneer hul na ander mense kyk daar geen genade is nie. Dan word ander maatstawwe gebruik om mense te meet, te veroordeel en onder verdenking te plaas.
‘n Evangelie sonder genade is geen goeie nuus nie. Die goeie nuus van Jesus Christus is juis dat Hy in genade gekom het om te red. Genade is Jesus se manier waarop Hy met mense omgegaan het. Behoort dit nie ook jou manier van lewe te wees nie?
Uit: Grondwaarhede vir die christelike lewe

