Die geheime bestandeel in jou lewe, wat die grootste verskil in jou lewe maak is nie jou omstandighede of hoe gelukkig jy is nie. Dit is jy self. Jy is die grootste gawe aan jouself. Geen wonder dat mense wat geneig is om hulself te onderwaardeer sukkel om die dinge in hul lewe te bereik wat hulle graag wil nie. Wanneer dit by die bereiking van jou persoonlike doelwitte kom, is dit waardevol om te onthou dat jy nie nodig het om net aan jou doelwitte te werk nie, jy moet ook aan jouself werk.
Wanneer mense my vra waarom dit belangrik is om doelwitte te hê, kan ek baie redes vir hulle gee. Die vernaamste rede is egter dat doelwitte jou help om jouself te ontwikkel. Een van die eienskappe van ‘n goedgevormde doelwit is dat dit uitdagend moet wees. Nie vir ander uitdagend nie, maar wel vir jouself uitdagend. In die nastreef van hierdie doelwit moet jy ook aan jouself moet werk om dit te bereik. Hierdie doelwit se waarde is dus nie net in die bereiking daarvan self geleë nie, maar ook in die mate wat dit jou menswees ontwikkel in die nastreef daarvan.
Onthou! Mense kry nie in die lewe wat hulle wil hê nie, eerder volgens wie hulle is. Jy kan slegs die mate van sukses bereik gelykstaande aan die mate van die selfwaarde wat jy het. Soms sien ander jou potensiaal raak, terwyl jy self daarin twyfel. Die beperkende faktor is nie dat jy te min geleentheid het nie, eerder dat jy jouself beoordeel met te min waarde. So lank jy nie glo dat jy waardevol is nie, bly jou potensiaal onbenut. Hierdie lae selfwaarde beperk jou lewe.
Jy is die een wat die grootste verskil in jou lewe maak. Moet jouself nie gering ag nie. Jy is self die beperkende faktor in jou lewe en die enigste een deur wie daardie beperkings oorskry sal word. Met selfvertroue kan jy daardie denkbeperkings oorskry en ‘n hele nuwe lewe vir jou oopsluit.
‘n Selfvertroue bouer.
Speel n speletjie. Sit ‘n masker op van selfvertroue en dink. praat en doen asof jy vol selfvertroue is.
Wat sou jy begin indien jy genoeg selfvertroue gehad het?
Hoe sal jy anders praat indien jy meer selfvertroue gehad het?
Hoe sal jy konflik anders hanteer met meer selfvertroue?
Hou die masker op totdat selfvertroue vir jou natuurlik voel.

