Kyk vandag na die mense rondom jou – by die huis, by die werk en orals waar jy kom. Elkeen van daardie mense het die vermoë om dit wat jy vandag te wil bereik moeiliker te maak of om jou te help om dit te bereik. Die vraag is hoe moet jy wees om die mense rondom jou te verander in ‘n span wat saam met jou werk om jou dag vreugdevol te maak?
Wees duidelik in wat jy verwag. Waarskynlik het jy jou dag en hoe jy dit graag wil laat uitwerk reeds in jou gedagtes beplan. En dit is die probleem – dit is in jou gedagtes. Hoe moet die mense rondom jou weet wat nou die belangrikste of die dringendste ding is wat moet gebeur, indien jy hulle nie vertel nie. Die “Ek sal maar kyk as ons daar kom” benadering is nie goed om mense rondom jou te inspireer om positief betrokke te raak by wat jy vandag wil bereik nie.
Weet die mense dat jy ook hulle belange op die hart dra? Mense het ‘n weersin daarin om misbruik te word. Hierdie misbruik gevoel kom na vore wanneer hulle die persepsie vorm dat dat hul insette verwag word, maar dat hul persoon nie belangrik is nie. Daarteenoor is mense weer geneig om meer as wat verwag word te gee wanneer hul ervaar dat hul persoon vir jou van belang is. Een van die beste maniere om dit te bereik is om ‘n gesamentlike doelwit te vorm waarin die ander persoon deel in die sukses van die dag.
Gee vir die mense rondom jou keuses. Daar is niks so erg soos om iets vir iemand te moet doen en dit dan nog op daardie persoon se manier ook te doen nie. Wanneer jy mense in ‘n span rondom jou wil versamel bemagtig jy hulle deur vir hulle keuses te gee in die nakoming van hul verantwoordelikhede. Op hierdie manier lei jy hulle tot selfvertroue. Dit is veral belangrik vir die volgende keer wat julle weer iets moet saamdoen.
Vorm die mense saam met wie jy iets moet doen tot ‘n span waarin elkeen meer bereik deur hul samewerking.

