Drie vrae wat jou help om te kry wat jy graag wil hê.

Die waarde van ‘n vraag is geleë in die kwaliteit van die antwoord wat dit ontlok. Party antwoorde is sommer op die punt van die tong, maar ander vereis dat jy ‘n bietjie daaroor sal dink. ‘n Goeie vraag stimuleer ‘n denkproses waarin die resultaat ‘n goedgeformuleerde en geloofwaardige antwoord is. Die bewys hiervan is dat jy die antwoorde duidelik en bondig kan neerskryf.

Waarnatoe is jy op pad?  Mense kom in beweging vir verskillende redes.  Party wil weg kom uit ‘n slegte situasie, maar vind dit moeilik.  Sodra hul die regte dinge doen en hul situasie verbeter, val hul terug na hul ou gewoontes en hul ou situasie.  Die probleem – hul het nooit gesê wat hulle in die plek van hul slegte situasie wou hê nie.  Jy sien, sodra jy weet wat jy in die plek wil hê, word dit ‘n krag wat jou nader trek.  Dit is egter nie genoeg om net te weet waarnatoe jy op pad is nie.  Jy moet die volgende vraag ook kan antwoord:

Waarom wil jy beweeg?  Geen groei of beweging in enige rigting is maklik nie.  Dikwels gaan dit gepaard met uitdagings, hindernisse en ander weerstand.  Hierdie hindernisse kan intern, in jouself wees, of ekstern, buite jouself wees.  Jy het ‘n goeie rede nodig om die veranderinge aan te bring wat jou sal in staat stel om die hindernisse te oorkom. Jy moet weet waarom jy wil beweeg? Een van die kragtigste oefeninge wat jy kan doen is om ‘n lysie te maak van die belangrike waaroms?

Waarom opstaan? Waarom dit nou doen? Waarom is dit belangrik? Waarom die tyd daaraan afstaan? Waarom die prys daarvoor betaal? Waarom die energie insit? Waarom?

Hoe gaan jy daar kom?  Dit is die vraag wat die beweging moontlik maak.  Indien jy nie glo dat dit moontlik is om daaruit te kom nie, sal jy waarskynlik nie in beweging kom nie.  Dit is dus nodig dat jy die groot beweging afbreek in kleiner logiese stappe. Elke kleiner stap het ‘n duidelike begin – die eerste tree. Jy kan die stappe wat jy moet volg om jou doelwit te bereik indeel volgens dit wat jy moet doen en die tyd wat dit neem om dit te bereik. Werk al jou stappe volledig uit van die begin tot die einde. Wanneer jy daarna kyk moet jy oortuig wees dat die uitvoering daarvan doenbaar en in jou beheer is.

Al wat nou oorbly is om die eerste tree te gee. Gee dit vandag.

This site uses cookies to offer you a better browsing experience. By browsing this website, you agree to our use of cookies.