Geluk binne elke dag se lewe

Vandag word mense oorlaai met die gedagtes van die buitengewone.  Buitengewone prestasies.  Buitengewone gawes.  Mense het buitengewone verwagtings.  Geen wonder dat kinders die afleiding maak dat indien hulle nie buitengewoon is nie, hulle nie tel nie of nie gelukkig kan wees nie.

Daar is ‘n mite wat die rondte doen dat buitengewoon gelukkig maak.  Dit is nie waar nie.  ‘n Mens raak die buitengewone ook gewoond.  Jy kan buitengewoon ryk wees, maar binne enkele maande is jy dit gewoond.  Jy kan buitengewoon suksesvol wees, maar binne enkele maande is jy dit ook gewoond.  Dan aanvaar jy daardie sg. buitengewone dinge in jou lewe as vanselfsprekend.  Indien jy dan voor die tyd gelukkig was, sal jy weer gelukkig wees, maar indien jy voor die tyd ongelukkig was, sal jy binne enkele maande weer ongelukkig wees.  Buitengewoon kan vir baie dinge sorg, maar nie vir lewensgeluk nie.

Die uitdaging is om binne jou gewone lewe, buitengewoon gelukkig te wees.  Hierdie geluk kom van ‘n lewenshouding wat getuig van nuuskierigheid en entoesiasme.  Het jy al agtergekom dat daardie dinge waaroor jy nuusierig is, doen jy moeite om oor uit te vind, te leer hoe dit werk en die kennis jou eie te maak.  Die ander kant van die munt is dat mense entoesiasties raak oor die dinge waaroor hulle nuuskierig is.  Uiteindelik is die dinge waarvan jy hou daardie dinge wat hierdie kombinasie het – aktiewe nuuskierigheid sowel as entoesiasme.

Nou!  Hoe sal jou lewe anders wees indien jy oor die dinge in jou lewe weer nuuskierig word?  Jy dink maar net dat jy reeds alles weet omrede jy uit roetine alles sommer net doen.  Dink weer oor die wetenskap van die gewone dinge in jou lewe.  Met nuuskierigheid kweek jy entoesiasme.  En met entoesiasme kom lewensgeluk.

Jy hoef nie hierdie week iets nuuts te doen nie, maar gaan google oor iets wat jy reeds doen.  Leer iets by.  Kry ‘n ander perspektief.  Raak entoesiasties oor wat reeds in jou lewe gebeur.  Dis die moeite werd om entoesiasties te raak oor jou eie lewe.

This site uses cookies to offer you a better browsing experience. By browsing this website, you agree to our use of cookies.