Maak ’n lysie van die redes waarom jou lewe nie is soos jy dit wil hê nie?
Wat as jy beter omstandighede gehad het?
Enige mens sou gedoen het, wat ek gedoen het?
Wat as dinge net bietjie anders uitgedraai het?
Wat as mense jou net beter hanteer het?
Wat as?
Aan die redes vir wat verkeerd is in mense se lewens is daar geen einde nie. Die menslike kreatiwiteit is bodemloos in die vermoë om jou ego te beskerm. Die een item wat jy baie min op jou eie lysie kry is – jyself.
Jou lewe is soos wat dit is omrede jy is soos wat jy is.
Jy het gerespondeer op jou omstandighede. Jy het opgetree teenoor die mense in jou lewe. Jy het keuses gemaak. Jy het ’n plan gehad of toegegee aan jou impulsiwiteit. Jy is die rede waarom jou lewe is soos wat dit is.
Wees dankbaar. As dit nie so was nie, sou jy nie die vermoë gehad het om jou lewe te kan verander nie. Nou het jy. In stede daarvan om jou magteloosheid te versterk fokus op daardie dinge wat jy wel kan doen wat ’n verandering aan jou situasie sal bring. Wat is die dinge wat in jou beheer is? Fokus daarop.
Wie is die mense rondom jou? Daar kom ’n tyd in die lewe waarin jy jou ondersteuningstruktuur moet aktiveer. Wie is hulle? Hoe maak hulle jou sterk? Wat is hulle rol in die verwesenliking van die volgende gedeelte van jou lewe?
Hoe pas hierdie gedeelte van jou lewe in jou lewensbestemming in? Moet tog nie die fout maak om te dink dat die omstandighede waarin jy jouself nou bevind finaal is nie. Dit is deel van die res van jou lewe waarin jy ’n lewensbestemming het. Een van die tragiese dinge wat gelowiges doen, is om nie die konneksie te maak tussen hul moeilike omstandighede en hul lewensbestemming nie. Jou lewensbestemming is nie slegs bedoel vir die goeie tyde in jou lewe nie.
Josef se put ervaring, slaaf ervaring en tronk ervaring het elkeen ’n besondere rol gespeel in die ontvouing van sy lewensbestemming. Jou huidige lewenservaring speel net so ‘n belangrike rol in die vorming van jou karakter sodat wat nou met jou gebeur voorbereiding is vir die volgende lewensuitdaging.

