Mense maak afleidings vanuit hul lewenservaring wat hul dan veralgemeen asof dit op elke plek en in elke omstandigheid waar is. Hierdie oortuigings gee dikwels vir mense probleme wanneer daar ‘n plek of geleentheid kom waarin hulle nie waar is nie. Dan is dit nie so maklik om die oortuiging te laat vaar nie.
Neem bv die oortuiging dat daar slegs een manier is om iets te doen. Daar is sekere dinge soos legkaarte en raaiselspeletjies wat slegs een oplossing het. Dit beteken egter nie dat die res van die lewe op dieselfde beginsel werk nie.
Mense wat glo dat daar slegs een manier is om iets te doen raak blind. Hul kan letterlik nie enige ander oplossing sien nie. Wat meer is – hul probeer die een oplossing forseer op die probleem, wat uiteindelik ‘n groter probleem skep. Om vir jou ‘n idee te gee hoe moeilik dit is, probeer bietjie jou oggend roetine verander. Of die manier waarop jy koffie maak. Of die manier waarop jy ‘n belangrike taak afhandel. Jou manier is nie noodwendig verkeerd nie, maar jy kan in ‘n omstandigheid kom waar dit nie meer werk nie. Wat dan? Dit is wanneer mense vasgevang raak in hul eie manier van dinge doen.
Wanneer jy verskeidenheid in jou denke en verskeidenheid in jou optrede ontwikkel, kan jy steeds goed op jou manier doen, maar dan omrede jy dit gekies het, nie omrede dit die enigste manier is nie.
Probeer hierdie week iets nuuts te doen.
Probeer hierdie week iets op ‘n nuwe manier te doen.
Probeer hierdie week op ‘n nuwe manier reageer.
Let op waar die nuwe manier van reageer of die nuwe manier van doen, jou lewe beter maak.

